Oom Herman se terugkeer

Hy sit op die ouetehuis se stoep en kyk na die piepklein tuintjie. Hy het al dikwels gewonder hoeveel van hierdie belaglike stukkies grond hy op sy plaas sou kon inpas. As die wolke so saamdrom en blitse maak in die vêrte soos vandag, mis hy Sekelvlei.

Party oggende verbeel hy homself hy ruik die kraal as die wind net reg draai. Hy verbeel hom hy hoor vir Sokkies teen die deur krap om sy melk binne te kom drink. Hier tussen die koue stene is die enigste lewe die miere en goggas wat al langs die muur skarrel. Die enigste bries rammel kunsmatig uit ´n ou waaier. Medisyne en krukke is die klippies en bosse.

Toe oë probeer hy dink presies hoe die koring op die lande goudgeel golwe onder die son gemaak het, die trekker se doef-doef in die vêrte onthou, die Tarentale wat regmaak vir die donker.

Die son skyn nooit in sy kamer soos op die swaai bankie voor die ou Wildevy nie. Die son het moed opgegee met hierdie spelonk, asof hy nie meer sy energie wil mors op ´n ou sieklike man nie.

Hy skakel sy verwarmer aan en maak of dit die knetterende vuur is op die berg die keer toe hy sy os gaan soek het. Hy´t die dier naby aan die vuur vasgemaak sodat hy nie koud kry nie en hom net daar ´Beswaard´ gedoop. Sy voorkop, wat altyd op ´n plooi getrek was, het hom altyd aan die besadigde diaken laat dink wat elke Sondag voor hom in die kerk gesit het. Hoe wens hy hy kon net nog een keer sy vingers deur Beswaard se lang rooibruin hare op sy skof trek. Hy sien sy groot oë waarin hy altyd ´n bietjie mens gesien het. Hy voel sy perd teen sy arm stamp vir nog ´n suikerklont wat hy altyd baie versigtig uit Martie se kas moes steel.

Die reën begin op die sinkdak raas en hy sê uit gewoonte dankie na bo. Maar die reën hier is nie dieselfde as op die plaas nie. Dit gee nie lewe nie, dit maak koud en styf.

Sulke oggende mis hy die bloedige warm dae en die groot doringboom op die bult waarteen hy gaan sit het om uit die son te kom. Dit is naby daardie doringboom wat hy vir Bekkie, sy eerste hond, begrawe het. Dieselfde boom wat hy en Martie Beukes smiddae heen gegaan het om onder hul ouers se oë uit te kom. Dis ook daardie doringboom waar hy haar gevra het om te trou en veertig jaar later haar lyk gekry het.

Hy sien steeds die bloed oor haar gesig, die ysterpyp wat eenkant, skuldig in die gras lê. Hy sien hulle glimlag in die hof, hulle familie wat hom tart en hy sien sy eie mense wat hulle skouers optrek asof dit normaal is om die beste ding in jou lewe te offer vir die duiwel se skynheilige magte.

Die geweer is koud in sy hande, die loop styf teen sy voorkop gedruk.

Saggies prewel hy: ¨ek´s op pad.”

En die engele kry solank die stropers reg en gooi die blomme voor die huis nat, want hulle weet hy kom – Oom Herman kom terug plaas toe.

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui